Andy blaas in nek van Tour-voorloper
2011-07-22 09:03
Pretoria – Andy Schleck (Leopard Trek) het met sy sege in die 18de skof, een van die strafstes, dit duidelik gemaak dat die stryd om die Tour de France se gesogte geeltrui nog lank nie verby is nie.
Eintlik het Schleck met sy heldhaftige jaagwerk Donderdag heelwat ander jaers se planne omvergewerp, want net vier deelnemers het dalk nog ’n realistiese kans om die Tour te wen.
Thomas Voeckler (Europcar) is steeds die algehele voorloper, maar hy is nou net ’n skrale 15 sekondes voor Schleck.
Fränk Schleck, Andy se broer, is derde – 1 minuut en 8 sekondes agter – en Cadel Evans (BMC) vierde – 1:12 agter.
Voor die skof was Andy in die vierde plek – 3 minute agter Voeckler.
Andy het die skof van Pinerolo na Galibier-Serre Chevalier (200.5 km) in 6:07:56 gewen. Fränk was tweede in 6:10:03 en Evans derde in 6:10:11.
Alberto Contador (Spanje, Saxo Bank), ’n driemalige Tour-wenner, was die dag se groot verloorder. Teen die Col du Galibier, die Tour se hoogste klim, het sy bene hom heeltemal in die steek gelaat. Hy het sowat 4 minute ná Andy oor die eindstreep gejaag.
Dit beteken dat Contador algeheel sewende, 4 minute en 44 sekondes, agter Voeckler is.
As Contador die Tour wil wen, sal hy in Vrydag se skof – wat ook drie erge klimme insluit – moet aanval en hoop hy kan vir die gunstelinge wegjaag.
Heldhaftig is die enigste manier om Andy se vertoning te beskryf. Hy het sowat 60 km van die einde teen die tweede groot klim, Col d’Izoard, almal onkant gevang toe hy skielik versnel het. Aan die voet van die Col du Galibier was hy 4 minute voor.
Oor die laaste paar kilometer het ’n tweestryd tussen Evans en Andy gewoed. In 10 km het Evans Andy se voorsprong met meer as 2 minute laat krimp.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24