Anderson steeds op wenpad in VSA
2011-08-17 11:09
Johannesburg – Suid-Afrika se eerste gekeurde Kevin Anderson het Xavier Malisse van België Dinsdagaand in die eerste ronde van die ATP- en WTA-toernooi in Cincinnati geklop.
Anderson het Malisse, 'n voormalige kampioen in die dubbelspel by die Franse Ope, in skoon stelle met 6-3, 7-6 geklop.
Die 25-jarige Suid-Afrikaner sal in die tweede ronde teen die 13de gekeurde Richard Gasquet van Frankryk te staan kom.
Anderson se landgenoot Chanelle Scheepers het in die tweede ronde van die vroue-toernooi uitgeval.
Scheepers, wat Rebecca Marino van Kanada in die eerste ronde geklop het, het met 6-7,3-6 teen die Tsjeg Petra Kvitova vasgeval.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- SAPA