Alonso sien rooi tot 2016
2011-05-19 12:21
Kaapstad - Die tweemalige wêreldkampioen Fernando Alonso het sy kontrak met Ferrari tot 2016 verleng, het die Italiaanse motorvervaardiger Donderdag op sy webtuiste gesê.
Die Spanjaard, wat sy wêreldtitels in 2005 en 2006 in 'n Renault gewen het, het in 'n verklaring gesê: "Ek is baie bly dat ons 'n ooreenkoms kon bereik. Ek voel baie gemaklik by Ferrari, vir my is die ouens soos 'n tweede familie."
Ferrari se baas, Luca di Montezemolo, het bygevoeg, "Ons is verheug om 'n renjaer te hê wat die mentaliteit van 'n wenner het, selfs in die moeilikste omstandighede."
Nadat hy vir Mindardi (2001), Renault (2002-2006 en 2008-2009), en McLaren (2007) gejaag het, het Alonso in 2010 by die Ferrari-span aangesluit.
Die 29-jarige het twee weke gelede derde geeïndig by die Turkse Grand Prix in Istanbul en is tans in die vyfde plek op die Formule Een-punteleer.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA