Alonso jubel ná sege vir Ferrari
2011-07-11 08:06
Silverstone. – Spanje se Fernando Alonso het Ferrari se eerste Formule Een-oorwinning vanjaar behaal toe hy Sebastian Vettel Sondag hier in die Britse Grand Prix geklop het.
Die 29-jarige Spanjaard, wat in 2006 laas in ’n Renault hier aan die wenkant was, het die Italiaanse motorvervaardiger se eerste sege behaal sedert verlede jaar se Koreaanse Grand Prix.
Alonso se bestuursvernuf het heelwat daarmee te doen gehad dat hy as wenner gekroon is, maar die geluksgodin het ook eindelik vir die Spanjaard geglimlag.
“Dit was ’n fantastiese dag,” het Alonso oor sy sege gesê.
Dit was sy 27ste oorwinning en dit plaas hom nou gelyk met die driemalige Britse kampioen Jackie Stewart in Formule Een se geskiedenisboeke.
Vettel het aanvanklik voor gejaag en dit het gelyk asof die Duitser, wat steeds die voorloper op die kampioenskapspuntelys is, maklik met die louere sou wegstap. Maar sy Red Bull-kuipespan het ’n blaps begaan kort nadat Vettel die tweede keer stilgehou het.
Een van sy wiele se monteerboute wou aanvanklik nie vas nie en dit het aan Alonso kans gegee om verby te glip.
Die Spanjaard het die huidige wêreldkampioen eindelik met meer as 16 sekondes geklop.
Vettel het sy spanmaat, die Aussie Mark Webber – wat in 2010 hier ’n oorwinning gesmaak het – se aanslag net-net afgeweer en laasgenoemde het derde geëindig.
Die Brit Lewis Hamilton was vierde op sy tuisbaan
Hamilton is so byna in die laaste rondtes verbygesteek, want ’n brandstoftekort het hom genoodsaak om nie sy versneller te diep weg te trap nie.
Maar hy het kopgehou en vasgebyt om Alonso se spanmaat, die Brasiliaan Felipe Massa, in die vyfde plek in te dwing.
Die Duitser Nico Rosberg was sesde in sy Mercedes, met die Mexikaan Sergio Perez (Sauber) en die Duitser Nick Heidfeld (Renault) onderskeidelik sewende en agtste.
Die sewemalige wêreldkampioen Michael Schumacher was negende in sy Mercedes, met die Spanjaard Jaime Alguersauri (Toro Rosso) tiende.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- Sapa - AFP