Alonso: 'Massa moet in Brasilië wen'
2010-11-05 19:11
Sao Paulo - Die Ferrari-renjaer Fernando Alonso, het op die vooraand van die Brasiliaanse Grand Prix gesê hy hoop sy spanmaat, Felipe Massa, wen.
Massa is nie meer in die wedloop om vanjaar se Formule Een-kroon te dra nie, nadat hy vroeër die jaar op omstrede wyse sy spanmaat in die Duitse Grand Prix toegelaat het om hom verby te vat en eerste oor die wenstreep te jaag.
Maar die Brasiliaan het nog altyd die vermoë gehad om voor sy tuisskare te beïndruk.
"Felipe is gewoonlik baie sterk op Interlagos. Ek dink vir Ferrari sal dit goed wees as Felipe kan wen. Dan neem hy 25 punte weg van my naaste teenstanders," het Alonso aan joernaliste gesê.
Alonso is die huidige voorloper in vanjaar se F1-reeks. Hy het 11 punte meer as Red Bull se Mark Webber en 21 punte meer as sy voormalige Mclaren-spanmaat, Lewis Hamilton.
"Die 25 punte vir 'n oorwinning pla my. Ek wil nie dat die ander ouens daardie punte kry nie. As Felipe die laaste twee wedrenne van die jaar kan wen, sal dit wonderlik wees vir my," het die 29-jarige Spanjaard gesê.
Die Brasiliaanse Grand Prix word Sondag om 18:00 regstreeks op SuperSport uitgesaai.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24