Alle oë vandag op BMX-jaer
2010-08-19 09:33
Pretoria - Woensdag was die eerste dag waarop Suid-Afrika geen medalje op die Olimpiese Jeugspele in Singapoer kon wen nie.
Die Suid-Afrikaanse mansswemmers het in die eindronde van die 4x100-wisselslagaflos sesde geëindig.
Australië het in 3 minute 42.50 sekondes gewen. Die SA span – Murray McDougall, Dylan Bosch, Chad le Clos en Pierre Keune – se tyd was 3:45.80.
McDougall is vandag in die eindronde van die 50-vlinderslag betrokke nadat hy in gister se halfeindronde vierde in ’n tyd van 25.24s geëindig het.
Wian Sulwald, wat aan die driekamp-spankompetisie deelneem, is die enigste ander Suid-Afrikaner wat vandag ’n medalje kan wen.
Teagan O’Keeffe, die junior BMX-wêreldkampioen, se vertoning in vanoggend se uitdunne lok groot belangstelling uit.
Sy behoort die vinnigste kwalifiseerder te wees. Kenners voorspel dat as sy nie hard neerploeg nie sy beslis vir Suid-Afrika ’n goue medalje kan wen.
* Dylan Jacobs was gister die groot atletiek-uitblinker toe hy in die spiesgooi-uitdunne sy persoonlike beste afstand na 71.92m verbeter het. Dit was die sesde beste afstand in die uitdunne. Argentinië se Braian Toledo het die uitdunne met ’n gooi van 77.27m gewen.
’n Erge reënbui is die rede waarom die gewigstoot-uitdun nie afgehandel is nie. Al die gewigstoters, behalwe Pole se Brozowski Kryzystof, sal vandag die vierde en laaste keer stoot.
Die jong Pool het die maatband reeds tot 22.50m laat rek. Suid-Afrika se Frans Schutte se 20.29m is sover die vierde beste afstand.
Sy pa en afrigter, Frans Schutte (sr.), meen Frans kan vandag maklik ’n meter verder stoot.
“Ek dink dit is goed dat hy vandag weer die kans kry om in die stadion op te warm en deel te neem. Dit sal help dat sy senuwees Sondag in die eindronde minder lol.”
Volgens Schutte (sr.) is Singapoer se hitte iets ysliks. “Die temperatuur styg bedags maklik tot 33 grade en hoër en snags daal dit maar tot 25 grade. Die humiditeit maak dinge soveel erger.
Roelf Pienaar het in die verspring-uitdunne sesde geëindig met ’n afstand van 7.28m. Brasilië se Caio dos Santos (7.66) het die beste afstand behaal.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24