Agassi in die sop oor dwelms
2009-11-02 11:55
New York – Die Wêreldagentskap teen Opkikkers (Wada) wil ‘n ondersoek instel om te bepaal of ‘n klag teen Andre Agassi gelê kan word nadat hy erken het dat hy metamfetamien (tik) in 1997 gebruik het en daaroor gelieg het.
Agassi het destyds positief getoets vir dwelms. Hy erken hy in sy biografie Open dat hy oor die saak gejok het.
"Hy het in 1997 iets gebruik wat verban was en ons kan nie veel daaraan doen nie omdat dit buite die agt-jaar beperking val,” het David Howman van Wada gesê.
Wada het ‘n agt-jaar beperking waarbinne dwelmoortredings gestraf moet word, maar volgens Howman sal daar wel gekyk word of ‘n klag gelê kan word.
“As hy gejok het soos wat hy erken het, dan het hy onder eed gelieg en ek glo dit regverdig ‘n verdere ondersoek,” het hy gesê.
Howman het Agassi se geval vergelyk met dié van die Amerikaanse naelloper Marion Jones, wat ‘n ses maande tronkvonnis moes uitdien nadat sy gejok het oor haar dwelmgebruik.
"Hierdie kwessies moet nagegaan word. Mens kan dit nie net afksryf omdat dit buite die beperking val nie en dink niks kan daaraan gedoen word nie,” het Howman gesê.
Nadat Agassi positief getoets het vir dwelms het hy ‘n brief aan die ATP, die gesagsliggaam vir tennis, geskryf en gesê hy het ‘n drankie gedrink waarin iemand dwelmmiddels sonder sy kennis gesit het.
Hy het geen straf ontvang nie.
- Sport24