Afrigter se 'Boksburg-instink' laat boef les opsê
2010-07-09 15:35
Wroclaw, Pole - Chris Botha, afrigter van die SA-gimnastiekspan, se goed gemikte opstopper het 'n vermeende dief in Poland uit soos 'n kers op die vloer van 'n manskleedkamer laat beland.
“Ek het ‘n persoon in een van die winkelsentrums gevra waar die kleedkamers is en die man het toe ewe vriendelik aangebied om my daarheen te neem.
"Toe ons aan die einde van ‘n lang gang kom, het hy my skielik in die gesig geslaan en my beursie gegryp,” het Botha vertel.
Volgens die afrigter moes dit sy "Boksburg instinkte" gewees het wat hom laat mik het na die rower se ken.
'n Lid van die SA-gimnastiekspan het egter 'n paar dae na die span se aankoms in Pole vir die Wêreldkampioenskappe die slagoffer van misdaad geword.
Sowat R8 000 se kontant is Donderdag uit die gimnas JP Engelbrecht se hotelkamer in Wroclaw gesteel.
Die Wêreldkampioenskappe se openingseremonie vind vanaand in Pole se tweede grootste stad, Wroclaw, plaas.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24