ASA se voorsitter dreig om te bedank
2011-08-13 10:08
Suid-Afrikaanse atletiek kan aanstaande week ’n skamele 12 dae voor die Wêreld-atletiekbyeenkoms in Suid-Korea vir die soveelste keer in ’n groot krisis gedompel word as James Evans as voorsitter van Atletiek Suid-Afrika (ASA) bedank.
Evans, wat skaars twee weke gelede tot die pos verkies is, dreig om te bedank omdat hy nie langer daarvoor kans sien om deur sekere lede van ASA se raad ondermyn te word nie.
Laat gistermiddag het Evans gesê hy sal die naweek finaal besluit wat om te doen.
Uit navrae lyk dit of Evans en Hendrick Ramaala, ’n voormalige wenner van die New York- marathon en ASA-raadslid, verskil oor hoe die sport bestuur moet word.
Die groot probleem blyk te wees dat Ramaala as ASA-kantoorhoof waarneem.
Volgens Evans het hy waardering daarvoor dat Ramaala in ’n moeilike tyd gehelp het, maar dat hy nie ná ASA se verkiesing in die pos kan aanbly nie.
“Dit is strydig met ASA se grondwet.
“ASA is ’n sakeonderneming en in geen sakeonderneming kan ’n raadslid ook die uitvoerende hoof wees en homself boonop beskikbaar gestel het om tot voorsitter verkies te word nie.
“Ongelukkig is ASA se raad verdeeld hieroor. Van die raadslede meen Ramaala doen goeie werk. Ek verskil met hulle.
“Ramaala het al heelwat besluite geneem sonder om die raad te raadpleeg. Wat my veral pla, is dat hy die marathon-atlete bly belowe dat hull esalarisse betaal gaan word. Ek wil weet waar hy die geld gaan kry.
“Ramaala het ook lukraak ASA se geld gebruik om atlete in die buiteland te laat deelneem. ’n Aansienlike bedrag is ter sprake. Die geld kon baie beter aangewend geword het. Ek het hom gevra om op skrif te verduidelik hoe hy besluit het watter atlete hy gaan help en wie nie. Ek wag steeds vir sy antwoord.
“Die wyse waarop Ramaala ASA se Lotto-aansoeke gehanteer het, het ook veel te wense oorgelaat en so kan ek aangaan.”
Volgens Ramaala is die grootste probleem dat Evans nie van aangesig tot aangesig met hom wil praat nie.
Ramaala erken dat hy met sekere ander raadslede koukus om Evans teë te staan.
“Dit is maar hoe dit in politiek gaan. Die oomblik as iemand tot ’n hoë pos verkies word, is daar ander wat saamstaan om die persoon uit te werk. Atletiek is nie anders nie.
“Evans moet leer om die volgende agt maande met ’n verdeelde raad saam te werk.”
– Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Beeld