ASA-man kap terug ná kritiek
2010-08-04 09:49
Johannesburg - Atletiek Suid-Afrika (ASA) word volgens Richard Stander, administratiewe hoof, onregverdig gekritiseer dat Suid-Afrika verlede week derde op die Afrika-atletiekbyeenkoms in Nairobi geëindig het.
Hoewel dit Suid-Afrika se swakste vertoning sedert 1992 op dié byeenkoms is, meen Stander daar is geen rede tot kommer nie.
Volgens hom het dié span beter presteer as wat verwag is.
“Ek het gedink dat Suid-Afrika net 14 medaljes gaan wen, maar toe wen ons 19.”
Van die grootste kritiek, is dat ASA in nommers soos die 100-hekkies vir vroue, hoogspring vir mans en vroue, paalspring vir mans en vroue, verspring en gewigstoot vir vroue geen atlete gekies het nie.
Stander se verweer is dat ASA doelbewus strenger met sy spankeuses is en nou net gefokus word op die nommers waar atlete ’n realistiese kans het om medaljes op aanstaande jaar se Wêreldbyeenkoms in Suid-Korea te wen en die Olimpiese Spele in Londen in 2012.
Hy voorspel dat die strenger keuringsproses reeds op die Statebondspele in Oktober in Indië gaan vrugte afwerp.
Een van die groot vrae bly steeds waarom die 18-jarige hekkiesloper Rikenette Steenkamp, die Suid-Afrikaanse senior, junior en skole-kampioen, so stief deur ASA behandel word.
Dit sou net sinvol gewees het om haar aan die Afrika-byeenkoms te laat deelneem.
Charley Strohmenger, die afrigter van Karin Mey wat deesdae vir Turkye deelneem, sê hy word oorval met oproepe van ouers en afrigters wat wil weet wat hulle moet doen om te verseker dat hul kinders vir ander lande kan deelneem.
“ASA sal moet pasop dat hy met sy streng vereistes nie die sport
doodmaak nie. Ek weet van belowende junior mansatlete wat aangedui het
dat hulle klaar met atletiek is en eerder weer gaan begin rugby speel.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24