ASA is bankrot
2009-12-09 10:01
Retha Grobbelaar
Johannesburg - Atletiek Suid-Afrika (ASA) het nie geld nie.
Ray Mali, administrateur van ASA en raadslid van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), het dit gister erken.
“ASA het nie geld nie. Dit kan ek nie wegsteek nie,” het hy aan Beeld gesê.
Mali het gesê hy is bekommerd oor ASA se geldsituasie.
“Geld word aan atlete geskuld, maar ek is in beheer van die situasie om seker te maak atlete word betaal.”
Mali wou egter nie bekend maak aan wie geld geskuld word of hoeveel nie. Hy het later gesê ASA skuld ook geld aan verskaffers en atletiekfederasies.
Mali het ASA se administrasie vroeër oorgeneem nadat Saskok Leonard Chuene, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), die hele ASA-raad en drie van sy werknemers geskors het weens hul hantering van die atleet Caster Semenya se geslagstoetse.
“Ons het dinge by ASA gestabiliseer. Die nuwe tussentydse raad werk hard. Ons het nie ’n tjaila nie. Ek sê egter nie alles is hunky dory nie. Daar is baie probleme.”
Klagstate sal binnekort na die geskorstes gestuur word en tugverhore sal dalk teen begin Februarie gehou word, het hy gesê.
Gideon Sam, Saskok se president, het ook gesê ASA se finansies is ’n “struikelblok”.
“Ons moet iets doen sodat ons nie in die modder beland en programme nie kan aangaan omdat ons nie geld het nie.”
Volgens Sam het hulle die Semenya-geval met die Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies (IAAF) bespreek.
“Die saak is nou tussen die IAAF en Semenya. Ons sal dit graag daar wil los.”
Sam het gesê hy kan nie bespiegel oor wanneer die Seme-nya-saak afgehandel sal wees nie. “Ons het versekerings van die IAAF gekry dat hulle gou tot ’n slotsom sal kom. Ons respekteer die IAAF se posisie. Dit is nie vir ons om te bepaal (wanneer sy sal deelneem nie).”
- Beeld