ASA-hoës gepootjie oor Semenya
2009-09-23 14:38
Johannesburg – Drie amptenare wat die mag gehad het om Leonard Chuene, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), se besluit om nie vir Caster Semenya van die atletiek wêreldkampioenskappe in Berlyn te onttrek nie, teen te staan, het verskillende standpunte oor die saak ingeneem.
Verskeie sportsadministrateurs en politici het versoek dat Chuene moet bedank nadat hy oor die naweek erken het dat hy gejok het oor kennis van geslagstoetse wat op 7 Augustus op Semenya uitgevoer is.
Chuene het ook erken dat die ASA se spandokter, Harold Adams, hom op 13 Augustus aangeraai het om Semenya uit die kampioenskappe te onttrek op grond van die toetsresultate.
Drie ander amptenare, wat die mag gehad het om op grond van Adams se voorstel Semenya te laat onttrek, het nou uitgepraat.
Kakata Maponyane, hoof van die span se afgevaardigdes, het erken dat hy by was toe Adams voorgestel het dat hulle Semenya moet onttrek, maar dat hy saamgestem het met Chuene om haar te laat deelneem.
Maponyane het Woensdag gesê dat sonder die toetsresultate hulle geen rede gesien het om Semenya te laat onttrek nie, ten spyte van Adams se advies.
“Ek het Harold gevra hoekom ons haar moet onttrek en hy kon ons nie ‘n rede gee nie,” het Maponyane gesê.
“Op watter grond kon ons die kind onttrek? Om só iets te doen moes ons feite gehad het en hy kon nie vir ons die toetsresultate wys nie.”
Een van die twee spanbestuurders, Phiwe Mlangeni-Tsholetsane, het ontken dat sy enigiets van Adams se advies geweet het.
“Mense voer aan dat ek in daardie vergadering was, maar ek was nooit in die vergadering tussen Adams en Chuene nie,” het Tsholetsane gesê.
“Een ding wat ek kan sê is dat ek net so kwaad is hieroor as almal anders in die land.”
Hendrick Mokganyetsi, die ander spanbestuurder, het ook ontken dat hy by die vergadering was, maar het gesê dat hy na die tyd ingelig is oor wat gesê is.
Hy het erken dat hy saamgestem het met die besluit om nie vir Semenya te onttrek sonder konkrete bewyse nie.
“Ek was nie in die vergadering nie, maar hulle het na die tyd vir my vertel wat gesê is en ek het saamgestem met die besluit wat gemaak is,” het Mokganyetsi gesê.
“Daar was niks in swart op wit nie en ek het gedink hulle maak die regte besluit.”
Die ASA-raad sal 10:00 Donderdagoggend in Johannesburg vergader om die saak, sowel as Chuene se toekoms as president van die raad, te bespreek.
- Sapa