ASA: Caster ís betaal
2009-09-08 11:10
Johannesburg - Atletiek Suid-Afrika (ASA) ontken gerugte dat die gouemedaljewenner Caster Semenya en ander gekontrakteerde atlete nie betaal is nie.
"Dit is nie waar nie," het Molatelo Malehopo, ASA se algemene bestuurder, gesê.
Beeld het berig dat Semenya weens dié beweerde wanbetaling, nie geld gehad het om haar ma in Limpopo te besoek nie.
Malehopo het gesê sekere atlete, nie net Semenya nie, wat vir kompetisies geoefen het, het 'n toelaag wat op hul vertoning gebaseer is, gekry.
Malehopo het gesê ASA het ook nog nie van die internasionale vereniging van atletiekfederasies (IAAF) gehoor oor geslagstoetse wat op Semenya gedoen is nie.
Semenya se afrigter, Wilfred Daniels, het die afgelope naweek bedank oor hoe sy behandel is.
Malehopo het gesê 'n besluit oor hoe ASA ná Daniels se bedanking voortgaan, sal later bekendgemaak word.
Intussen het die ANC-jeugliga nog nie geld wat in Augustus tydens 'n mediakonferensie aan Semenya, Mbulaeni Mulaudzi en Khotso Mokoena beloof is, betaal nie.
Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het gesê reëlings word nog getref om die geld aan die atlete te oorhandig.
– Sapa