ANC: Kry ASA voor stok
2009-09-26 09:17
Cobus Coetzee
Die ANC het ’n kommissie van ondersoek teen Atletiek Suid-Afrika (ASA) se base gevra.
Volgens die party behoort iemand voor stok gekry te word oor die “teleurstellende” hantering van Caster Semenya, wêreldkampioen in die 800 m vir vroue.
Leonard Chuene, ASA-president, het die naweek erken hy en Molatelo Malehopo, ASA se hoofbeampte, het gelieg oor geslagstoetse wat voor die Wêreldbyeenkoms in Berlyn op Semenya gedoen is. ASA het vandeesweek egter besluit geen stappe sal teen hulle gedoen word nie.
“Ons het geen keuse as om die regering en die sportgemeenskap te vra om in te gryp nie,” het Jackson Mthembu, partywoordvoerder en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, gister in ’n verklaring gesê.
Die verklaring is in oorleg met Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, se kantoor uitgereik.
Die ANC glo ASA moes sterker teen beamptes soos Chuene opgetree het. “Ondersoek moet ingestel word na wie Semenya se regte geskend het en hoekom dit gebeur het. Iemand moet verantwoordelikheid neem,” het Ishmael Mnisi, ANC-woordvoerder, gisteraand gesê.
Volgens hom behoort die departement van sport vergaderings met ASA te hou of ’n kommissie van ondersoek aan te stel. “As beamptes uit hul poste gesit moet word, moet dit so wees. Die ANC gaan niemand beskerm nie.”
Die ANC glo slegs deur sulke stappe sal die aansien van Suid-Afrikaanse atletiek herstel word.
- Beeld