4de medalje vir Le Clos
2010-08-18 15:00
Pretoria - Ná die derde dag van die Olimpiese Jeugspele in Singapoer is dit nie meer ’n geheim wat Suid-Afrika se Chad le Clos se stokperdjie is nie.
Hy versamel medaljes op groot byeenkomste in die swembad.
Le Clos was Dinsdag tweede in die 100-vlinderslag in ’n tyd van 53.31 sekondes.
Korea se Gyucheol Chang het in 53.13 gewen en Serwië se Velimir Stjepanovic was derde in 53.77s.
Le Clos het ook die Suid-Afrikaanse 4x100-aflosspan gehelp om ’n bronsmedalje te wen.
Rusland het dié aflos in 3:23.91 gewen, China was tweede in 3:24.46 en Suid-Afrika (Le Clos, Murray McDougall, Dylan Bosch en Pierre Keune) derde in 3:24.66.
Le Clos, wat vir Suid-Afrika weggespring het, het sy 100m in 50.33s voltooi, wat die derde vinnigste van die aflos was.
Net He Jianbin van China met ’n tyd van 49.41en Kenneth To van Australië 50.22was vinniger.
Die Suid-Afrikaner het in drie dae nou reeds vier medaljes (1 goud, 2 silwer en 1 brons) verower.
Suid-Afrika het al vyf medaljes (1 goud, 2 silwer, 2 brons) verower.
Die atlete het ook Dinsdag begin deelneem.
Izelle Neuhoff was tweede (55.01) in die 400-uitdunne vir meisies.
Herman Venske, afrigter, vertel dat die 16-jarige Neuhoff vóór haar uitdun erg bekommerd was omdat baie van die atlete amper twee keer groter as sy is en “erg manlik” voorgekom het.
“Ek het toe maar vir haar die volgende sms-boodskap gestuur om haar te motiveer:
‘Saul het na Goliat gekyk en gesê hy is te groot om dood te maak, maar toe Dawid vir Goliat sien, was sy woorde: Hy is te groot om te mis.
“Ek het Izelle goed laat verstaan dat sy haar nie deur die ander atlete se grootte moet laat intimideer nie.
“Sy het geluister.
“Izelle sê met sowat 150m na die eindstreep oor was sy nog 10m agter die voorlopers, maar sy het geweier om bes te gee en het die atlete een vir een begin inhaal.”
Dup du Preez, diskusgooi-afrigter, is ook tevrede met hoe sy atlete in die uitdunne gevaar het.
Jacques du Plessis was tweede met ’n afstand van 63.17m. Indië se Arjun kon eers met sy laaste gooi die diskus 63.90m deur die lug laat trek.
Du Preez voorspel dat Du Plessis Saterdag goud kan wen. Hy het in die oefeninge al 65m gegooi. Arjun is die enigste ander atleet wat ook al verder as 60m gegooi het.
Meyer was ook tweede in haar uitdun met ’n afstand van 48.03m. Haar senuwees het haar voor die tyd glo goed opgekeil.
Die ander Suid-Afrikaanse atlete wat na die eindrondes deurgedring het, is: Maryke Brits (7de in die verspring – 5.88 en Ruan Greyling (2de in die 400 – 47.60).