21 SA atlete na Suid-Korea
2011-07-20 07:35
Pretoria – Atletiek Suid-Afrika (ASA) het ’n voorlopige span van 21 baan- en veld-atlete gekies om in Augustus in Daegu, Suid-Korea, aan die Wêreldbyeenkoms deel te neem.
Toe James Evans, waarnemende voorsitter van ASA, gevra is waar die geld vandaan gekry gaan word om so ’n groot span te stuur, was sy antwoord dat al is dit die laaste ding wat hy vir SA atletiek doen, is dit om seker te maak al die atlete neem deel.
“As dit moet, sal ek reëlings tref om die geld iewers te leen. Al die SA atletiekspanne wat die laaste paar maande internasionaal deelgeneem het, het goed presteer.
“Daarom kan ons nie nou vir die senior Wêreldbyeenkoms amper geen atlete stuur nie.
“Ons het doelbewus ’n groot span gekies omdat ons die net voor aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Londen wyd wil span.
“Die atlete wat nou dalk net die kwalifiserende B-vereiste oortref het, is dalk die atlete wat eindelik gaan verras.”
Evans het gesê hy het intussen vasgestel dat een van die redes waarom die Nasionale Lotery nie geld vir ASA wil gee nie, is omdat die werknemers in ASA se kantoor in Johannesburg nie hul werk ordentlik gedoen het nie.
“Die aansoekvorms is verkeerd ingevul. Die Lotery duld só iets glad nie.
“Die ander probleem is steeds dat sekere dokumente verlore geraak het in die oorgangstyd van Saskok se bestuur na die huidige ASA Raad.”
Volgens Evans het atlete tot 5 Augustus om vir die Wêreldbyeenkoms te kwalifiseer. Die byeenkoms begin die 27ste.
Die Suid-Afrikaanse span is:
MANS:
Thuso Mpuang (100 en 200), Simon Magakwe (100), Lebogang Moeng (200 en 400); Mbualeni Mulaudzi (800), Elroy Gelant (5 000), Stephen Mokoka (10 000), Ruben Ramolefi (3 000-hindernis), Lehann Fourie (110-hekkies), LJ van Zyl en Cornel Fredericks (400-hekkies), Khotso Mokoena en Luvo Manyonga (albei verspring), Tumelo Thagane (driesprong), Robert Oosthuizen (spiesgooi), Willem Coertzen (tienkamp).
VROUE:
Caster Semenya (800), Wenda Theron (400-hekkies), Simoné du Toit (gewigstoot), Sunette Viljoen en Justine Robbeson (albei spiesgooi).
Wayde van Niekerk (200 m) was gekies, maar het hom weens ’n besering onttrek.
Die name van die atlete wat aan die 4x100- en 4x400-aflos gaan deelneem, sal dié week bekend gemaak word. Die kans is goed dat Oscar Pistorius ’n lid van die 4x400-aflosspan kan wees. Net Van Zyl (44.86), Moeng (45.47) en Ofentse Mogawane (45.59) spog met vinniger tye as Pistorius se 45.61.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24