2016 Spele: Hoë aangekla van bedrog
2012-01-13 23:08
Sao Paulo – Die direkteur van sekuriteit en veiligheid vir die 2016 Olimpiese Spele het glo bedrog gepleeg toe hy dieselfde pos tydens die Pan-Amerikaanse Spele, wat vier jaar gelede in Rio de Janeiro gehou is, beklee het, het die kantoor van Brasilië se openbare aanklaer Vrydag gesê.
Luiz Fernando Correa het 40 miljoen reals (R163 miljoen) in 2007 spandeer om sekuriteitstoerusting aan te koop.
‘n Latere ondersoek het getoon dat die toerusting slegs 22 miljoen reals (R90 miljoen) werd was, het Paula Amaral, ‘n woordvoerder vir die aanklaer se kantoor, gesê.
“Hy het die regering 80% te veel gevra,” het Amaral gesê.
Die aanklaer se kantoor het gevra dat die ondersoek geloods word aangesien die aankope gedoen is sonder om dit met markpryse te vergelyk, soos wat die wet vereis, het sy gesê.
Die organiseringskomitee vir die Rio 2016 Olimpiese Spele het gesê nie hulle of Correa het onmiddellik kommentaar om te lewer nie.
‘n Amptenaar van die komitee het gesê Correa sal die hoof van sekuriteit bly vir die Rio Spele. Die amptenaar wou anoniem bly.
Indien Correa skuldig bevind word sal hy die bedrag wat hy te veel gevra het aan die regering moet uitbetaal.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
- Sapa - AP