18-jarige bo ná Dusi-drama
2010-01-24 07:45
Johannesburg - In ’n dag vol drama het Andrew Birkett en Jason Graham verras deur die Dusi-kanowedvaart vanaf Pietermaritzburg tot hier te wen.
Hul wentyd vir dié wedvaart waar daar vir ongeveer 120 km geroei en gedraf word, was 7 uur 42 minute en 4 sekondes.
Ant Stott en Michael Mbanjwa was tweede in 7:45:27 en Thomas Ngidi en Eric Zondi derde in 8:05:02.
Wat Birkett en Graham se sege merkwaardig maak, is die feit dat die 18-jarige Birkett eers in Oktober 19 jaar oud word.
Ray de Vries, woordvoerder van die Dusi, meen Birkett is die jongste wenner ooit.
Stott
was 19 toe hy in 1998 die eerste keer die K2-wedvaart saam met Kelvin
Murray gewen het. Len Jenkins was ook 19 toe hy in 2001 die K1-wedvaart
gewen het.
Met die aanvang van gister se laaste skof was Stott en Mbanjwa ’n skrale 0.17 van ’n sekonde voor Birkett en Graham.
Stott,
’n viermalige wenner van die Dusi, het vooraf voorspel dat die wedvaart
in die drafskof by Burma Road en die Pump House-keerwal gewen of
verloor sou word.
Dit is presies waar die dag se drama plaasgevind het.
Birkett
en Graham het by Burma Road net voor Stott-hulle met hul kano begin
draf, maar Birkett het skeefgetrap op die smal klipperige veldpaadjie
en skouspelagtig neergeploeg.
Dit was die kans waarop Stott en Mbanjwa gewag het. Hulle het blitsig verbygeskiet en eerste die bopunt van Burma Road bereik.
Hulle
was ook eerste terug in die water en het gou ’n voorsprong van 60
sekondes opgebou. Dit het in daardie stadium na ’n uitgemaakte saak
gelyk dat hulle die wedvaart sou wen.
Ongelukkig het Stott
by die Pump House-keerwal die water verkeerd gelees. Die gevolg was dat
hulle ’n rots getref en omgeslaan het. Hulle het vir amper twee minute
gespartel om weer terug in hul kano te klim.
Birkett het hul kano foutloos deur Pump House gestuur en eerste oor die eindstreep geroei.
“Die oomblik toe ons sien dat Ant-hulle in die water is, het Jason vir my gesê dit is nou of nooit nie.
“Ons het vir ’n paar minute voluit geroei totdat ons seker was ons het ’n goeie voorsprong,” het Birkett gesê.
Graham bestempel hul sege as ’n sportsprokie wat waar geword het.
“Ek is ’n onderwyser by Pietermaritzburg Boys High School en Andrew was ’n leerling aan die skool.
“Ek het Andrew afgerig toe hy 10 jaar oud was. Op hoërskool het ek hom ook so ’n bietjie met kano-afrigting gehelp.
“Ek het in 2007 ná ek my elfde Dusi voltooi het, eintlik uitgetree. My beste posisie was ’n vierde plek.
“Verlede
jaar het ek net vir die lekkerte aan die Dusi deelgeneem, maar toe ek
sien hoe Andrew as 17-jarige algeheel vyfde in die K1-wedvaart eindig,
was ek van vooraf gemotiveerd.”
Abbey Miedema het haar
oorheersing van die Dusi se vroue-wedvaart voortgesit toe sy die
K2-wedvaart saam met Robyn Kime gewen het.
Hul wentyd was 8 uur 56 minute en 4 sekondes. Dit is Miedema se sewende sege.
Marlene Loewenstein het die vroue-wedvaart 8 keer gewen.
Abie Adie en Lindy-May Harmsen was tweede in 9:08:03 en Hilary Pitchford en Jen Hodson derde in 9:13:51.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport