14 Sportsoorte hoor wie gaan Spele toe
2010-08-01 10:07
JOHANNESBURG - Die verspringers Khotso Mokoena en Luvo Manyonga se onlangse blink vertonings op die wêreldverhoog beteken dat Suid-Afrika oor twee maande op die Statebondspele in Indië nie een nie, maar twee fantastiese verspringmedalje-kanse sal hê.
Die 19-jarige Manyonga het vroeg in Julie in Duitsland ’n nuwe junior Afrika-rekord van 8.19 meter opgestel om sy kaartjie Delhi toe te bespreek. Enkele weke later is hy as die junior wêreldkampioen gekroon ná hy 7.99 gespring het.
En terwyl Mokoena tot enkele dae gelede nog buite die vereiste top-4 op die Statebond-ranglys was, het hy Vrydag Afrika-goud – en sy plek in die Statebondspele-span – met ’n afstand van 8.23 meter verseker.
Dis net ’n sentimeter korter as die 8.24 waarmee hy in 2008 Olimpiese silwer gewen het, en plaas hom ferm onder die gunstelinge vir Statebond-goud.
Die name van albei die ster-atlete behoort in die atletiekspan, wat die Olimpiese liggaam Saskok op 25 Augustus sal aankondig, ingesluit te word.
Die sewesrugbyspan sal ook dan bekend gemaak word.
Saskok het reeds verlede week die name aangekondig van 115 Suid-Afrikaners wat die land in 14 ander sportsoorte – waaronder swem, rolbal, boogskiet en hokkie – sal verteenwoordig.
Die liggaam het sy belofte dat net die keur van Suid-Afrika se atlete in die toekoms na groot internasionale sportbyeenkomste gestuur sal word, in die proses gestand gedoen.
Suid-Afrika het een van die grootste groepe op die Statebondspele van 2006 in Melbourne gehad met sowat 250 atlete, maar was net vyfde met 38 medaljes – 183 minder as Australië se 221.
Die Olimpiese liggaam het egter besluit dat individuele atlete vanjaar onder die top-4 in die Statebond moet tel om na die Spele te gaan, en spanne onder die top-5. Só wil hulle verseker dat minder geld bestee word op verteenwoordigers wat nie resultate kry nie.
Daar is enkele uitsonderings in vanjaar se groep: die nasionale netbalspan is sesde in die Statebond, maar is ingesluit ná bemoedigende uitslae in die laaste twee jaar.
Die manshokkiespan is sewende, maar reis na Indië omdat hulle in die Wêreldbeker-toernooi in Februarie onder die top-5 in die Statebond geëindig het.
Die groep het geen verrassings opgelewer nie. Soos verwag sal tien swemmers, wat almal in hierdie stadium onder die voorste vier in die Statebond tel, in Indië deelneem. Die verwagting is dat dié tien, wat die sterre
Natalie du Toit, Roland Schoeman en Cameron van der Burgh insluit, die medaljes sal laat inrol.
Drie skuts, vier boksers en drie gimnaste is ingesluit. Dit vergelyk met 14 skuts, 10 boksers en 12 gimnaste in 2006.
Die Saskok-president, Gideon Sam, het gesê die Statebondspele sal ’n goeie toets wees vir hul beleid om net die heel beste atlete met vliegtuigkaartjies te beloon.
“Omdat ons ook spanne stuur, klink die groep steeds groot, maar dis heelwat kleiner as die groot groep wat in 2006 in Melbourne was,” het hy gesê. “Ons verwag veral groot dinge van ons swemmers, atletiekspan en rolbalspan.”
Benewens die swemmers is bewese sterre soos Tour de France-skofwenner Robbie Hunter en Lance Armstrong se RadioShack-spanmaat Daryl Impey ook in die Statebond-groep.
- Rapport