’n Swanger skok vir SA
2011-08-23 08:04
Johannesburg – ’n Verslag oor die mishandeling van swanger vroue in hospitale in Suid-Afrika het dokters, sielkundiges en traumaberaders met afgryse gelaat.
Babalwa L. van die Oos-Kaap het in 2009 uitgevind sy is swanger. Sy is as asmalyer deur haar dokter na die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth verwys.
Babalwa was huiwerig, want sy was bewus van ander swanger vroue wat swak sorg gekry het by dié hospitaal. Ná 12 uur in kraam is sy uiteindelik hospitaal toe. Sy het ’n uur en ’n half lank gewag voordat sy vir die eerste keer ondersoek is.
Die verpleegster wat haar ondersoek het, het gesê sy “lieg daaroor dat sy in kraam is” en haar na die wagkamer teruggestuur. Drie uur later is Babalwa se baba in die wagkamer doodgebore.
Babalwa is een van 157 vroue, gesondheidswerkers, kenners en staatsamptenare in die Oos-Kaap met wie navorsers van Human Rights Watch (HRW) onderhoude gevoer het vir “Stop Making Excuses”, ’n verslag wat vandeesmaand uitgereik is.
Luidens die verslag is talle swanger vroue by hospitale en klinieke in die Oos-Kaap fisiek en verbaal mishandel.
Meer as 30 het gesê hulle is geslaan, geknyp of hardhandig behandel tydens kraam. Een het ’n letsel op haar bobeen gewys waar sy glo gesny is toe ’n verpleegster ’n skêr gebruik het om haar bene oop te dwing tydens die geboorteproses. Ander het vertel hulle moes self die bloed opvee nadat hulle gekraam het en by sommige hospitale moes swanger vroue ure lank wag terwyl hulle reeds in kraam was.
75% van die 157 vroue het aan HRW gesê gesondheidspersoneel mishandel swanger vroue verbaal.
Veral jong, ongetroude ma’s het vertel van verbale mishandeling by hospitale en klinieke. Volgens ’n vrou by ’n kliniek in die O.R. Tambo-distrik het ’n verpleegster tydens kraam haar bobene geknyp en gesê: “Dit was mos baie lekker toe jy die baba gemaak het. Maak oop!”
Gert Kirsten, hoof van die neonatale afdeling by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, het gesê die verslag is skokkend. “Dit is beslis nie aanvaarde praktyk in die hantering van swanger vroue of normale aanvaarde mediese praktyk enige plek ter wêreld nie.”
Volgens Cizelle Louw, kliniese sielkundige van Pretoria, ervaar vroue in kraam alles baie intens. “So ’n ervaring kan ’n geweldige skok wees wat hulle negatief kan instel teenoor toekomstige geboortes en swangerskappe.”
Barbara Louw, traumaberader en uitvoerende hoof van Inter Trauma Nexus, het gesê die geboorte van ’n eerste kind is dikwels al traumaties omdat ma’s gewoonlik nie weet wat om te verwag nie. “Baie ma’s wat gehoor het wat met ander swanger vroue gebeur, is al sekondêre slagoffers nog voordat hulle by die hospitaal instap omdat swanger vroue sterk met mekaar assosieer en mekaar se trauma baie persoonlik opneem.”
Sy het gesê dit lei tot ’n getraumatiseerde gemeenskap en beroof swanger vroue van hul menswaardigheid.
Sy het gesê die soort mishandeling kan langtermyn-letsels laat wat intensiewe sielkundige terapie kort om dit te genees. Talle van dié vroue het egter nie toegang tot terapie nie of kan dit nie bekostig nie.
Op die bekendstelling van die verslag is daar gevra hoe gesondheidswerkers, wie se werk dit is om pasiënte te help en hul pyn te verlig, so wreed kan optree.
Talle faktore – swak administratiewe en finansiële bestuur, swak betaling van gesondheidswerkers, ’n gebrek aan mediese voorraad en toerusting, ’n gebrek aan verantwoordbaarheid van gesondheidswerkers, asook ’n hoë werklading en soms bitter lang werkure – dra daartoe by, het HRW se navorsing getoon.
Louw meen verpleegsters wat daagliks aborsies moet doen en vroedvrou speel, is dikwels afgestomp en uitgebrand. “Ek het al met talle verpleegsters gepraat vir wie aborsies teen hul geloof en morele waardes ingaan. Hulle werk by klinieke net om ’n werk te hê. Weens die aard van die werk ly talle aan posttraumatiese stres of verbitteringsversteuring.”
Nolwazi Gaza, gesondheidsontleder by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, het gesê: “Ons moet ophou om verskonings te maak vir verpleegsters deur te sê hulle is oorwerk. Ja hulle is. Daar is dalk ’n paar vrot appels en ontnugterdes, maar individuele verantwoordbaarheid kom kort.”
Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het gesê sy departement beskou die hoë sterftekoers onder swanger vroue en babas in Suid-Afrika in ’n baie ernstige lig.
Motsoaledi het erken Suid-Afrika is nog ver van sy Millennium-ontwikkelingsdoelwitte om die sterftes van swanger vroue van 1990 tot 2015 met 75% te laat afneem.
Sterftes onder swanger vroue in Suid-Afrika het die afgelope dekade verdriedubbel.
HRW meen die skrikwekkende omstandighede in staatshospitale is een van die hoofredes waarom soveel vroue ondanks moderne tegnologie in hospitale steeds sterf tydens kraam.
Motsoaledi het intussen ’n program goedgekeur met onder andere ’n ginekoloog, pediater, verloskundige en narkotiseur wat klagtes in die provinsie sal hanteer en stelsels instel om die mishandeling van swanger vroue in die toekoms te verhinder.
Die regering het die vermindering van sterftes onder swanger vroue tot ’n nasionale prioriteit verklaar en maatreëls ingestel om babasterftes en sterftes onder swanger vroue te verminder.
92% van swanger vroue in Suid-Afrika het toegang tot nageboortelike sorg en maak daarvan gebruik.
87% kraam in hospitale en klinieke, waar talle voorheen tuis gekraam het sonder die nodige mediese bystand.
Suid-Afrika is een van net ’n paar lande waar swangerskapsorg in openbare hospitale gratis is.
’n Stelsel bestaan ook om die oorsaak van sterftes van swanger vroue deeglik te ondersoek.
Nietemin vra die HRW-verslag dat struikelblokke in bestaande stelsels geïdentifiseer en dié inligting gebruik moet word om die land se gesondheidstelsel te versterk en onmenslike behandeling van pasiënte te voorkom.
Ten spyte van HRW se verslag en inligting van 157 vroue, gesondheidswerkers, kenners en staatsamptenare in die Oos-Kaap oor onmenslike behandeling van swanger vroue word sake soos dié nie by die polisie aangemeld of ondersoek nie, lui die verslag.
Uit vrees vir intimidasie en onkunde het nie een van die vroue met wie onderhoude gevoer is ’n klag by die polisie ingedien nie.
Daar is bevind onvoldoende meganismes bestaan by hospitale en klinieke om pasiënte se klagtes te hanteer.
Baie slagoffers weet nie van provinsiale inbelsentrums nie en mediese sentrums gee selde inligting daaroor.
Baie klinieke waar klagtes ingedien word, ignoreer eenvoudig die klagtes en gee nooit terugvoering aan die pasiënte nie, het die verslag bevind.
– Bron: “Stop Making Excuses” deur Human Rights Watch
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld