‘n Paar biere beskerm dalk teen asma
2011-09-26 11:29
Amsterdam – Die matige gebruik van alkohol kan jou kans om asma te ontwikkel verminder, het navorsers van ‘n Deense studie bevind.
Die navorsers het 9 500 tweelingpare se alkoholgebruik teenoor hul asmarisiko oor agt jaar bestudeer.
Hulle het bevind minder as 4% van dié wat een tot ses sopies alkohol per week gedrink het, het asma ontwikkel.
Meer as 6% van die tweelingboeties of -sussies wat selde of nooit gedrink het, het wel asma ontwikkel.
Die navorsers het egter gewaarsku oormatige alkoholgebruik kan die teenoorgestelde effek hê en selfs tot asma lei.
Sowat 4.5% van swaar drinkers, wat meer as vier sopies alkohol per dag gedrink het, het asma ontwikkel.
“Die oormatige gebruik van alkohol kan tot gesondheidsprobleme lei, maar matige drinkgewoontes kan die kans op asma verminder,” het die navorser Sofie Lieberoth van die Bispebjerg-hospitaal in Denemarke gesê.
Die navorsing word Maandag voor ‘n vergadering van die Europese Respiratoriese Vereniging se jaarlikse kongres in Amsterdam voorgelê.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.