’n Horing-doring in die vlees
2011-08-31 08:58
Johannesburg – Edna Molewa van die departement van omgewingsake het eergister aangekondig dat sy ’n moratorium op renosterjag oorweeg totdat sy haar “sake in orde gekry het”, maar die regering het tot dusver min gedoen of reggekry om die aanslag op die land se renosters te stuit.
Daar is vurige voor- en teenstanders van so ’n moratorium.
Dan is daar diegene wat meen die enigste oplossing vir die voortslepende stropery is om handel in renosterhoring te wettig.
Almal wat aan die debatte deelneem, soek oplossings vir die beskerming en behoud van renosters, maar hul motiewe verskil.
Selomie Marx-Maritz van Mookgophong (Naboomspruit) en Louise Joubert van Sanwild by Gravelotte sê ’n “onmiddellike” moratorium is noodsaaklik – ten minste totdat die departement van omgewingsake die chaos met die uitreiking van permitte reggestel het.
Jagpermitte vir renosters word glo “links en regs” op provinsiale vlak uitgereik. En die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie, sê hulle.
Die onlangse onthullings oor sindikate wat Thaise prostitute met ’n geweer in die hand by renosterkarkasse laat poseer in fop-renosterjagtogte is net nog ’n bewys van die bedrog wat gepleeg word met jagpermitte.
Niel Maritz, regsgeleerde en renostereienaar van Limpopo, steun ook ’n moratorium.
Hy sê sedert die uitreiking van jagpermitte in die vroeë 1990’s van die nasionale omgewingsdepartement na die provinsiale departemente afgewentel is, het dié bedryf in “ ’n chaos ontaard”.
“Dít stook korrupsie omdat amptenare blykbaar nie by die nasionale departement aanmeld hoeveel jagpermitte uitgereik word nie.”
Hy meen ook strawwe wat howe aan stropers oplê moet baie swaarder wees.
Die voorstanders van die moratorium het onlangs gemeen hulle het moontlik ’n deurbraak gemaak toe Gareth Morgan, DA-woordvoerder oor omgewingsake, sy steun aan hulle gegee het.
Etlike dae later het Morgan van standpunt verander, glo nadat hy in gesprek was met onder andere wildboere van Wildlife Ranching South Africa (WRSA).
Jacques Malan, president van die WRSA, sê as Molewa ’n moratorium waag, gaan hulle haar hof toe neem. As hulle die saak wen, soos in die geval van die saak oor “geblikte leeus” teen die regering, sal hulle skadevergoeding van haar departement eis.
Malan en Pelham Jones, ’n renostereienaar, is dit eens dat ’n moratorium die stropery sal laat toeneem. Hul standpunt is: “If it pays, it stays.” Dus: As ’n dier kommersiële waarde het, word hy bewaar.
’n Moratorium sal boere geldelik laat ondergaan omdat dit die kommersiële waarde van die diere sal ruïneer, sê Malan.
Dit is dan juis deur jaginkomste dat die wildboer ’n bestaan kan voer.
“Watter gewone boer kan dit bekostig om renosters wat geen inkomste op sy plaas inbring nie aan te hou?” vra hy. Volgens hom het renosterboere groot uitgawes deurdat hulle die diere in die winter lusern moet voer en hulle moet beskerm teen siektes deur gebruik te maak van veeartse en helikopters. Hulle moet in sommige gevalle ook veiligheidsmaatskappye aan- stel om die diere teen stropers te beskerm.
Hy kap ook na die staat en sê die private sektor mag in “geen omstandighede gestraf word vir die staat se wanorde en onbekwaamheid nie’’.
Die WRSA meen daar moet ’n sentrale kantoor vir die uitreiking van jagpermitte vir alle bedreigde spesies, soos renosters, wees.
Malan meen die moratorium wat die regering en die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) ingestel het op handel in renosterhoring het gelei tot ’n toename in stropery.
“So ’n moratorium is net ’n opsie vir die oningeligtes,” sê hy.
John Hume van Mauricedale in Mpumalanga, die grootste renosterboer in die land, meen die regering moet handel in renosterhoring wettig deur renosters se horings af te saag.
In dié stadium loop Hume hom vas in etiese kwessies waarmee veeartse, wat die horings sal moet verwyder, nou ook worstel.
Want, sê hulle, ’n renoster het om ’n bepaalde rede horings.
“Maar as dit (onthoorning) die dier se voortbestaan sal verseker, moet dit dalk oorweeg word.”
Molewa het eergister op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê ’n studie is aan die gang om vas te stel of onthoorning wreed is teenoor die dier. As dit die geval is, sal die regering dié metode teenstaan.
Die navorsers moet ook vasstel of dit renosters se sosiale gedrag beïnvloed as hulle nie horings het nie.
Wouter van Hoven, hoof van die Sentrum vir Natuurlewebestuur aan die Universiteit van Pretoria, is ook ’n ondersteuner van die wettiging van handel in renosterhoring.
In die jongste uitgawe van die jagtydskrif Wild en Jag skryf hy: “Renosters se pryse op die jongste wildveilings was nie indrukwekkend nie, bloot omdat dit ’n risiko-spesie geword het.
“Pryse wissel rondom R170 000. Dit het te veel gebeur dat ’n renoster kort nadat hy gekoop en afgelewer is, doodgemaak word vir sy horing, so asof die stropers weet wie renosters bekom het.
“Ek glo sterk dat die grootste enkele bydrae tot die bewaring van hierdie spesie en die beperking van groot verliese vir hul eienaars daarin lê dat die handel in renosterhoring gewettig word.”
Hy skryf voorts renosterhoring behaal tans meer as R300 000 per kilogram op die swartmark.
Van Hoven beskou renosterhoring as ’n hernieubare natuurlike hulpbron wat geld die land kan laat invloei. Hy stel die “oes” van renosterhoring gelyk aan die skeer van skape vir hul wol.
Ed Hern, renostereienaar van die Renoster-en-leeupark in Kromdraai, buite Krugersdorp, is raadop met die stropery en skrik nou dié misdadigers op ’n buitengewone manier af: Hy het sy renosters se horings met ’n middel teen parasiete geverf.
Oral teen die heinings van sy reservaat word voornemende stropers gewaarsku dat die horings van die renosters in sy reservaat nié geskik is vir menslike gebruik nie.
So is daar 200 plakkate oral by sy reservaat opgeplak.
Een renoster is verlede jaar in sy reservaat gestroop.
Sedert hy die waarskuwings aan die heinings aangebring het, was daar nog geen stropery in sy reservaat nie, sê hy.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld