‘n Baba maak pappa minder macho
2011-09-13 12:57
New York – Mans wat pa word ervaar ‘n biologiese oorgang wat hulle minder macho en meer soos ‘n besorgde pappa laat optree, het navorsers bevind.
“Mans is geprogrammeer om na hul kinders om te sien,” het die navorser Lee Gettler van die Northwestern University in Chicago, Amerika gesê.
Die studie het 465 mans sedert 1983 vanaf die ouderdom van 1 jaar bestudeer om hul hormoonvlakke waar te neem.
Op 21-jarige ouderdom is die mans se hormoonvlakke weer getoets voor hulle vir oulaas op die ouderdom van 26 getoets is nadat omtrent die helfte pa’s geword het.
Mans wat steeds enkellopend was het ‘n verlaging van 12% tot 15% in hul manlike hormoonvlakke ervaar – meestal verwant aan hul ouderdom.
Pa’s met kinders tussen die ouderdomme van een maand en een jaar het egter ‘n 30% verlaging in hul manlike hormone ervaar.
Die verlaging in die hormone wat mans macho laat optree, maak sin, het navorsers gesê, aangesien hoë vlakke van testosteroon mans dryf tot hoë-risiko-gedrag wat nie van pas is vir ‘n pa nie.
“Babas het gewoonlik ‘n sterk fisiese, emosionele en sielkundige effek op hul ouers,” het Gettler gesê.
“Ons sien mans se biologie reageer op die geboorte van hul kinders,” het hy bygevoeg. “Hulle pas by hul nuwe rol as pa aan.”
Die navorsing is in die joernaal Proceedings of the National Academies of Sciences gepubliseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.