iPhone nou gewilder as BlackBerry
2011-04-10 09:43
Apple se iPhone en fone met Google se Android-bedryfstelsel het nou die voortou geneem in die slimfoonmark ten koste van Nokia en BlackBerry.
Meer as ’n derde van alle slimfone wat die afgelope jaar in Amerika verkoop is, gebruik die Android-bedryfstelsel en dit het nou meer gebruikers as BlackBerry-fone.
Apple se iPhone-reeks oorheers ook steeds die bopunt van die mark.
Die Android-bedryfstelsel is die sagteware wat gebruikers se selfone beheer, net soos Windows-sagteware rekenaars beheer.
In Suid-Afrika word BlackBerry-fone al hoe gewilder, sê Arthur Goldstuck, uitvoerende hoof van die ontledingsmaatskappy World Wide Worx. BlackBerry het tans 4% van die plaaslike markaandeel, sê Goldstuck, maar dit behoort in die volgende paar maande sterk te groei.
Volgens ’n onlangse meningspeiling deur World Wide Worx beplan 24% van die Suid-Afrikaanse selfoongebruikers om hul foon vir ’n BlackBerry te verruil, sê Goldstuck.
Die Android-bedryfstelsel is in 2008 bekendgestel en het sedertdien geweldig gegroei.
Vandag gebruik verskeie hardewarevervaardigers Android in sowat 200 verskillende slim-fone en tabletrekenaars.
Nokia verloor sy plek in die mark vir slimfone en die mark in goedkoop fone.
Nokia het intussen ’n vennootskap met Microsoft aangekondig waarvolgens die Windows Phone 7-bedryfstelsel op sy fone gebruik sal word in ’n poging om sy markaandeel te versterk.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport