iPhone 4 verkoop goed in SA
2010-10-18 14:04
Kaapstad - Drie maande ná dit internasionaal bekendgestel is raap Suid-Afrikaners die nuwe iPhone 4 nou gretig op eie bodem op.
Dié gewilde slimfoon, wat deur Apple vervaardig word, het in ander lande soos soetkoek verkoop.
Vodacom het aangedui dat hy hoogs tevrede is met iPhone 4-verkope in Suid-Afrika.
"Ons het geweldige belangstelling in die iPhone 4 en het al duisende eenhede verkoop sedert die bekendstelling," het Richard Boorman, uitvoerende hoof van korporatiewe kommunikasie by Vodacom, aan News24 gesê. Hy kon geen spesifieke verkoopsyfers gee nie.
Vodacom, wat lank reeds met die iPhone in SA verbind word, was die eerste maatskappy om aan te kondig dat hy die jongste weergawe van die iPhone na Suid-Afrika sou bring. MTN het later die mark verras met 'n aankondiging dat hy ook iPhones sou verkoop, hoewel net op 'n kontrakbasis.
Ons het ons netwerk ná die (Soikker-) Wêreldbeker opgradeer en dis nou meer as gereed om slimfoonverkeer te hanteer," het Edward Mahlasela, 'n verteenwoordiger van MTN, aan News24 gesê.
Die iPhone 4 het onlangs onder kritiek deurgeloop as gevolg van probleme wat verband hou met die sogenaamde "greep van die dood" wat by sommige iPhone 4's opvangsprobleme veroorsaak. Dié opvangsprobleem volg wanneer 'n gebruiker die raam om die selfoon op 'n spesifieke manier vashou.
"Apple noem dit (die raam) 'n buffer, en wat hulle betref is die probleem opgelos. Klante wat die iPhone koop en nie heeltemal tevrede is nie kan met Apple in verbinding tree en sal 'n gratis raam ontvang op Apple se onkoste," het MTN se bemarkingsbestuurder, Sandy Ward, gesê.
Vodacom het gesê hy is onbewus van enige opvangsprobleme met die iPhone 4 in Suid-Afrika.
"Ten spyte van die sogenaamde Antennagate-debakel in die VSA, is ek nie bewus van enige beduidende opvangsprobleme op ons netwerk nie. Al ons iPhone 4's word verkoop met 'n rubberbuffer wat direkte kontak met die metaalstrook wat as antanna dien, verhoed," het Boorman gesê.
- Volg Nuus24 hier op Twitter, of kliek hier om Duncan Alfreds te volg.
- News24