Zuma lewer staatsrede met iPad se hulp
2011-02-10 14:14
Kaapstad – Terwyl president Jacob Zuma voorberei vir sy staatsrede wat hy Donderdag in Kaapstad sal lewer, is min mense bewus daarvan dat sy toespraak op ‘n iPad voorberei is.
‘n Foto is Donderdag op Twitter uitgereik van die president wat sy toespraak op dié gewilde tablet-rekenaar deurgaan.
Die president se kantoor het bevestig dat Zuma die iPad, wat verlede week amptelik in Suid-Afrika bekendgestel is, self besit.
“Ja, dit is syne, maar ek is nie seker hoe lank hy dit al het nie,” het Zanele Mngadi van die presidensie aan Nuus24 gesê in die aanloop tot die toespraak wat om 19:00 begin.
Op die foto kan president Zuma gesien word waar hy in sy kantoor deur sy toespraak lees, maar dit is nie bekend watter programme hy verkies nie.
“Ek weet nie waarvoor hy dit gebruik nie,” het Mngadi erken.
Die Core Group het onlangs die iPad in Suid-Afrika bekendgestel, byna ‘n jaar nadat dit in die VSA uitgereik is
- Nuus24