Yahoo se nuwe baas lag al die pad bank toe
2012-07-20 07:38
San Francisco – Yahoo! se nuwe hoof- uitvoerende beampte sal oor die volgende vyf jaar, afhangend van die maatskappy se vordering, meer as $70 miljoen (sowat R573 miljoen) verdien, lui dokumente wat by die Amerikaanse Sekuriteitebeurskommissie ingedien is.
Die 37-jarige Marissa Mayer sal 'n jaarlikse basissalaris van $1 miljoen (sowat R8 miljoen) verdien en met die prestasiebonusse ingesluit, sal dié bedrag tot $3 miljoen (sowat R24 miljoen) styg.
Mayer, wat Maandag in die pos aangestel is, sal $12 miljoen (sowat R98 miljoen) in jaarlikse aandele toekennings ontvang, 'n eenmalige toekenning van aandele-opsies of -toekennings wat meer as $30 miljoen (sowat R245 miljoen) beloop en $14 miljoen in aandele wat sy verbeur het toe sy Google verlaat het, het die maatskappy gesê.
Sy is Yahoo! se derde hoof- uitvoerende beampte wat vanjaar aangestel is.
Mayer se voorganger, Scott Thompson, het in Mei bedank oor bewerings dat hy gejok het oor sy kwalifikasies. Voor hom is Carol Bartz afgedank.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA