Worshond neem leeuwelpie in sy sorg
2011-07-15 08:00
Potchefstroom - Ontmoet Nanny McD, oftewel Dodger die worshondreun, wat deesdae “ma” speel vir ’n leeuwelpie by ’n dieresorgsentrum buite die stad.
Dié driejarige worsie het sommer gou gesien die kleine leeukind Absalom het nodig om gereeld van van kop tot tone gelek te word, het René Jordaan gister vertel.
Sy versorg al die afgelope 12 jaar beseerde en siek diere by die Griffin-ekosorgsentrum buite Potchefstroom. Jordaan se tienerkinders het Dodger sommer Nanny McD(addy) gedoop vanweë sy sterk vadersdrang.
“Hy het in die verlede ook al ma vir muishonde gespeel,” het Jordaan gesê. “Toe Absalom hier aankom, het ons hom met nat lappies gevee om die leeuwyfie se lek in natuurlike omstandighede na te boots.”
Absalom is nou ses weke oud.
Jordaan vermoed Dodger het gou gesnap dis ’n noodsaaklike takie en toe sommer self begin om Absalom te lek. Dis noodsaaklik om die leeuwelpies se spysverteringstelsels te stimuleer. Absalom kom van ’n leeuteelplaas naby Koppies in die Vrystaat.
“Die groter welpies in sy trop het hom stukkend gebyt en die eienaars (van die teelplaas) het gevrees hy sal nie oorleef nie. Hulle het gevra of ons hom sal grootmaak,” het Jordaan vertel.
Absalom was maar sowat twee weke oud toe hy na Jordaan gekom het.
“My dogter, Jana (18), het hom van die begin af versorg en snags opgestaan om hom melk te gee. Hy slaap ook by Jana en moet elke sowat twee uur drink.”
Volgens Jordaan slaap Absalom darem nou al ’n groot gedeelte van die nag deur. Hy kry formulemelk vir babakatte.
Die leeutjie is nog lomp en bekyk die wêreld met dom baba-ogies, maar wanneer hy grom, hoor jy dis g’n miaau nie, maar beloftes van brul.
Absalom sal oor sowat vier maande na die teelplaas teruggaan. “Ons moet seker maak hy kan dan alles eet, maar kan ook nie te lank wag nie omdat hy moet leer om met ander leeus te sosialiseer.”
Al die diere by Jordaan se sentrum het name – van Absalom tot Pieter die eland, Johannes die aasvoël en Woosh die muishond tot Jackson die jakkals.
Mense bring wilde diere van oor die hele land hierheen, veral voëls wat in kragdrade vasgevlieg het of diere wat raak gery is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger