Wondermiddel dalk kuur vir alkoholisme
2012-04-25 13:06
Parys – Franse gesondheidsowerhede het die gebruik van 'n middel vir die behandeling van alkoholisme goedgekeur.
Die middel, wat aanvanklik ontwikkel is om spasmas te behandel, kan nou in toepaslike gevalle deur alkohol-verslaafdes gebruik word.
AFSSAPS, die reguleerder wat die middel, Baclofen, goedgekeur het, het gesê daar is nog nie klinkklare bewyse dat die middel alkoholverslawing kan teenwerk nie – maar daar was wel bewyse van "kliniese voordele vir sommige pasiënte".
Dié middel het 'n geskiedenis van 50 jaar. Dit is oorspronklik ontwikkel om epilepsielyers te behandel en om spasmas te verlig, maar onlangse navorsing het ook getoon dat dit die lus vir alkohol kan verminder.
Belangstelling in die middel het in 2008 opgevlam ná die publisering van die boek Le Dernier Verre (Die Laaste Drankie), deur die kardioloog Olivier Ameisen, wat hoë dosisse Baclofen gebruik het om sy alkoholisme te oorkom.
Die middel is intussen vir 'n jaar lank getoets op 132 swaar drinkers. Altesaam 80% van deelnemers het ophou drink, of hulle drankinname aansienlik verminder.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP