Woede oor kinders wat robbe voer vir toeriste
2013-01-16 10:14
Kaapstad – Jong seuns wat visse in hul monde rondswaai om robbe by die Houtbaai-hawe te lok, stel nie net hul lewens in gevaar nie, maar verontagsaam ook die wet, is Woensdag berig.
Pat Stacey, voormalige hawemeester, het aan die Cape Times gesê die seuns voer die robbe op dié manier in die hoop om 'n paar rand uit toeriste te verdien.
In 2009 is 'n 14-jarige seun, wat 'n vis in sy mond gehad het, beseer nadat 'n rob uit die water gespring en hom op sy mond gebyt het.
"Ons het altyd 'n probleem met mense wat robbe voer, dit was 'n aanhoudende stryd en nou duur dit voort," het Stacey gesê.
Ingevolge die Wet op die Beskerming van Seevoëls en Robbe is dit onwettig om die diere te voer.
Danny "Blitz" Abrahams, 'n inwoner van Houtbaai, is voorheen ingevolge dié wet aangekla omdat hy vir jare lank robbe gevoer het.
Hy het 'n groot manlike rob, bekend as Pietie Boy gelok en gevoer en toeriste R10 gevra om 'n foto te neem terwyl hulle op die dier sit.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA