Wit leuentjies op CV 'nie baie slim'
2010-06-15 13:00
Johannesburg – Die versoeking is groot om jou CV bietjie interessanter te maak met ‘n wit leuentjie of twee, maar wees gewaarsku, werkgewers span deesdae tegnologie in om seker te maak jy vertel die reine waarheid.
Volgens ‘n werwingsmaatskappy maak werkgewers al hoe meer gebruik van die internet om moontlike kandidate op te soek en te toets of alles wat hulle op hulle CVs sê, ooreenstem.
“Tegnologie maak klein, wit leuentjies al hoe gevaarliker,” het Jack Hammer Executive Headhunters in ‘n verklaring gesê.
Al word jy persoonlik deur ‘n maatskappy genader vir werk, is dit steeds belangrik dat jou CV die korrekte inligting toon.
Werkgewers gebruik graag Google, Facebook of Twitter om meer uit te vind oor ‘n voornemende werker.
Aansoekers kan té maklik so uitgevang word.
“Ons gebruik al meer en meer dié sosiale netwerke om meer uit te vind oor moontlike kandidate,” het, Debbie Goodman-Bhyat, die direkteur van Jack Hammer, gesê.
“Om jou CV te laat beter lyk met ‘n wit leuentjie of twee, is nie baie slim nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.