Wikipedia mik vir selfoonmark
2013-02-05 08:57
Tokio – Die aanlynensiklopedie Wikipedia wil selfoongebruikers teiken in 'n poging om teen 2015 ‘n miljard gebruikers te hê, het ‘n senior uitvoerende beampte gesê.
Die groei in die mobiele mark in veral ontwikkelende lande bied dié webtuiste die geleentheid om heelwat meer gebruikers te bereik, het Jay Walsh, senior direkteur van kommunikasie by die Wikimedia Foundation, in Tokio aan AFP gesê.
Walsh het bygevoeg dat Wikipedia tans sowat 438 miljoen gebruikers het.
“Dit is eintlik nogal moeilik om jou webtuiste te neem en dit beskikbaar te stel op die eenvoudigste selfoon,” het Walsh gesê.
“Om Wikipedia in die Midde-Ooste op jou foon te aktiveer kan ‘n paar dollar kos, wat ‘n groot bedrag geld in daardie lande is.”
“Ons probeer daardie hindernis verwyder sodat mense nie daaroor hoef te dink nie.”
Die inisiatief sal Wikipedia Zero genoem word.
Volgens syfers van die bankgroep Morgan Stanley sal die aantal selfone en tabletrekenaars wat toegang tot die internet het, vanjaar die aantal skootrekenaars en rekenaars met internettoegang, oorskry.
Sowat 33 000 aktiewe deelnemers help tans om die webblad se inhoud te redigeer. Wikipedia laat enige gebruiker toe om veranderings aan blaaie te maak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP