Wes-Kaap ‘maak geskiedenis’ met vigsmiddels
2011-07-27 09:20
Kaapstad – Skaars ses jaar gelede het net 11 000 pasiënte vigsmiddels in die Wes-Kaap ontvang, maar gister is daar feesgevier toe die 100 000-merk oorgesteek is.
Die geleentheid is by die Nuwe Somerset-hospitaal in Groenpunt gehou, waar die eerste mense in Suid-Afrika tien jaar gelede antiretrovirale middels (ARM’s) ontvang het.
Joey Cupido van die departement van gesondheid het gesê: “Die eer moet die mense toekom wat, ondanks die politieke druk van destyds, die regte ding gedoen het danksy hul innerlike waardes. Dit het bewys ons is medici en nie politici nie”.
Die eerste paar duisend pasiënte se medikasie is nie deur die regering betaal nie weens die destydse ontkenning van vigs deur die nasionale regering.
Medici het self na oorsese donateurs gesoek.
“Destyds is 90% van die koste deur skenkers gedra, en nou is dit omgekeerd,” het Cupido bygevoeg.
Voor die program tien jaar gelede begin het, is die middels hier vir die eerste keer aan swanger vroue gegee om die oordrag na hul babas te voorkom.
Theuns Botha, provinsiale minister van gesondheid, het gesê met dié mylpaal word Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak.
Dit is ’n bewys dat die siekte na ’n bestuurbare chroniese siekte verander her.
Daar is sover bekend 330 000 mense in die Wes-Kaap wat MIV-positief is.
Die provinsie se doel is om 80% van hulle te bereik.
Baniere van steun van al die streke in die provinsie, geteken deur pasiënte en gesondheidswerkers, het gister se feesvieringe gekenmerk.
Die laaste banier is deur die streekbestuurders, Ivan Bromfield, hoof van Kaapstad se gesondheidsdienste, Botha en ander gaste geteken.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger