Wêreld se eerste baster-haai ontdek
2012-01-03 18:14
Sydney – Australiese wetenskaplikes het Dinsdag die ontdekking van twee verskillende haaispesies wat gepaar het, verwelkom.
Dit is iets wat nog nooit vantevore gesien is nie en kan haaie op die lange duur help om beter in warm oseane te oorleef.
Die hoofnavorser, Jess Morgan, het gesê die paring van die Australiese swartvin-rifhaai met sy internasionale ekwivalent, die algemene swartvin-rifhaai, was ‘n ongehoorde ontdekking, met gevolge vir die hele haai-populasie.
“Dis is baie verrassend, want niemand het al ooit baster-haaie gesien nie. Dit is nie ‘n algemene verskynsel nie,” het Morgan, van die Universiteit van Queensland, gesê.
“Hiedie is evolusie in aksie.”
Die ontdekking is gemaak tydens werk wat op die Australiese ooskus gedoen is.
Die Australiese swartvin-rifhaai is effens kleiner as sy internasionale ekwivalent en kan slegs in tropiese water leef, maar die bastervorm is 2 000 km van die kus gevind, wat beteken dit kan aanpas in die oseaan se temperature.
“As dit effektief met die algemene spesies paar kan dit verder suid beweeg na koeler water,” het Morgan gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP