Weeskalfie kry nuwe tuiste
2010-07-17 07:03
Amanda Roestoff en Elise Tempelhoff
Johannesburg - Die weesrenostertjie van die Krugersdorp-wildtuin het gister sy eerste treë in sy nuwe tuiste in Kromdraai aan die Wes-Rand gegee.
Die bulkalfie se ma, die laaste volwasse witrenoster in die Krugersdorp-wildtuin, is Maandag vir haar horings gestroop.
Ed Hern, eienaar van die Renoster-en-leeupark in Kromdraai, het hom die naam Vuma (Zoeloe vir “aanvaarding”) gegee.
Hy het die dier vir R50 000 by Elna Brink, die Krugersdorp-wildtuin se eienaar, gekoop.
Die nege maande oue renostertjie, wat die harte van Suid-Afrikaners die laaste paar dae aangegryp het, sal voortaan saam met nog twee bulletjies, Victor en Velo (albei 14 maande), in Hern se reservaat bly.
Wildbewaarders en werkers moes gister bontstaan om Velo en Victor se aandag af te trek sodat die halfbedwelmde nuweling uit die vragmotor gelaai en op sy pote gehelp kon word.
Sy eerste paar treë was wankelrig, maar kort voor lank het ’n groot klomp stof in sy twee nuwe maats se oë geskop.
Daarna het Vuma onder toejuiging van omstanders na die naaste watergat gestap.
’n Bewoë Japie Mostert, wildbewaarder van die Krugersdorp-wildtuin, het eenkant gestaan en gesê die renosterbulletjie het altyd so daarvan gehou om saam met sy ma in die moddergat in die reservaat te speel.
Intussen het die nuutgestigte omgewingsgroep StopRhinoPoaching gister in ’n verklaring gesê 136 renosters (tien meer as wat gister in Beeld berig is) is sedert begin vanjaar in Suid-Afrika gestroop.
Renostereienaars teken daagliks voorvalle van stropery op die groep se webwerf aan.
Volgens StopRhinoPoaching is daar toenemende eenstemmigheid onder bewaringsorganisasies dat ’n verbod op handel in renosterhoring sindikate aangevuur het om by stropery en sluikhandel betrokke te raak.
“Ons meen die gekontroleerde verkoop van opgepotte renosterhoring is moontlik die antwoord op hierdie ongekende aanslag op dié diere.”
Die organisasie meen die horings wat verkoop word, mag net verkry word van diere wat natuurlik doodgaan en van diere wat onthoring word.
’n Renoster se horing groei terug en daarom kan hulle elke derde jaar onthoring word.
Benhoff Wagner, renostereienaar van Limpopo, het gesê hy is baie daarteen gekant om renosters te onthoring omdat dit die diere se “persoonlikheid” verander.
Onthoringde bulle word uit die trop gestoot en ly as’t ware aan ’n minderwaardigheidsgevoel.
Onthoringde koeie sukkel om hul kleintjies te beskerm. Die renoster se horing help die dier ook om sy balans te hou.
“Sonder sy horings is ’n renoster nie ’n renoster nie.”
StopRhinoPoaching meen egter: “Die enigste oplossing vir renosterstropery op kort termyn is om die diere te onthoring en die horings wettig te verkoop.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld