Wees uniek, los die '.com'
2011-06-20 10:47
Singapoer – ‘n Internasionale beheerliggaam wat toesig hou oor die domein-naamgewingbeleid van die internet het Maandag gestem ten gunste daarvan om private maatskappye in staat te stel om unieke agtervoegsels aan hul webadresse te las in plaas van die generiese “.com”.
Die Internet Corporation for Assigned Names and Numbers (ICANN) het gestem ten gunste van die verandering te midde vrese dat die nuwe agtervoegsels verwarring sal veroorsaak.
As die veranderinge geïmplementeer word sal private maatskappy nie meer tot generiese .com-, .net- en .org-agtervoegsels beperk word as hulle ‘n webtuiste registreer nie. Hulle sal dan hul eie agtervoegsel kan skep.
“Sommige mense voel die nuwe agtervoegsels sal verwarring veroorsaak,” het ‘n raadslid van die internetorganisasie gesê.
“Ons verseker egter die verwarring sal van kort duur wees,” het hy bygelas.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP