Wees renostertjie kan dalk blind word
2010-12-15 07:24
Die Burger
Johannesburg - ’n Wees renosterbulletjie by die Renoster-en-Leeupark in Kromdraai naby Krugersdorp het ’n ernstige ooginfeksie en loop die gevaar om blind te word.
Vusi, die nuutste toevoeging tot die renosterspannetjie wat ook Velo en Vuma insluit, het verlede week by Ed Hern se reservaat in die Wieg van die Mensdom aangekom.
Vusi se ma is verlede maand in Vryburg vir haar horing doodgemaak. Die verskrikte renostertjie het dae lank verward rondgehardloop voor hy gevind en na Kromdraai gebring is, het me. Lorinda Hern, bemarkingsbeampte van die reservaat, gesê.
“Dis mos baie sosiale diere. Hulle kan nie so alleen wees nie. Daar word vermoed dat Vusi weens die trauma en skok dae lank sonder kos was en ook begin dehidreer het.” Die span by die park het sommer met die eerste oogopslag gesien Vusi is baie maerder as Velo en Vuma.
“Ons het ’n vermoede gehad hy’s dalk blind en dat Vusi dit dalk nie kan maak nie. Hy het aanvanklik vreeslik in sirkels geloop en in alles vasgeloop. Ons moes toe ingryp toe die ander twee – Velo en Vuma – hom ook begin karnuffel.”
Duidelike skaaf- en seerplekke is op die renosterbulletjie, wat tussen sewe maande en een jaar oud kan wees, opgemerk.
Dr. Lo-An Odayar, ’n veearts van die Johannesburgse Diere-Ooghospitaal, is Dinsdag ingeroep om te bepaal of Vusi se lewe onherroeplik sal verander en of daar nog hoop is vir hom om te kan sien. Odayar het gesê Vusi het tydelik sigprobleme omdat hy erge inflammasie in sy oë het.
“Ons hoop die infeksie sal opklaar met die hulp van antibiotika en anti-inflammatoriese medikasie wat ek voorgeskryf het. Ongelukkig is een van die nadele van so ’n toestand dat hy permanent blind kan word as die infeksie nie gou genoeg opklaar nie.”
Odayar kon nie ’n skatting maak oor hoe vinnig Vusi op die medikasie sal reageer en of hy permanente blindheid sal vryspring nie.
“Ons kan net bly hoop dat hy vinnig op die medikasie sal reageer.”
’n Vierde renosterkalf, Victor, is weke gelede na ’n ander blyplek verskuif omdat hy te groot vir die kamp geword het.
- Die Burger