Wees kalf uit sy lyding verlos
2011-12-07 09:33
Port Elizabeth – Die Shamwari-natuurreservaat se wees renosterkalfie, Tanner 2, moes Maandag uit sy lyding verlos word.
Dié 18 maande oue kalfie was by sy ma toe stropers vroeg in November met doofpyle toegeslaan, haar horing vermoedelik met pangas uitgekap en syne met ’n kettingsaag afgesaag het.
Tanner 2 het nagenoeg vyf ure in ’n koma gelê voor hulp by hom uitgekom het. Die son het direk in sy een oog gebrand en die ander een is beskadig onder die druk van sy swaar kop. Gevolglik was sy sig erg beskadig.
“Sy sig het nog verder verswak. Ons moes elke ses ure druppels in sy oë sit, maar om dit te kan doen, moet hy eers verdoof word, wat ons nie wou doen nie. Gevolglik moes ons dit oor ’n afstand in sy oë spuit,” het Johan Joubert, die luukse reservaat in die Oos-Kaap se veearts en natuurlewe-direkteur, gesê.
Verder het Clint, Tanner 2 se beskermer, dit al hoe moeiliker gemaak om nader aan sy verswakte maatjie te kom. Clint is ook ’n weeskalfie, wat hom oor Tanner 2 ontferm het.
Dit het behandeling aan Tanner 2 se regteragterbeen, wat vyf uur lank onder sy lyf vasgedruk was en ernstige weefselskade opgedoen het, ook moeiliker gemaak.
Clint het sy getraumatiseerde maatjie na die groen gras in die boma by Shamwari se diererehabilitasie-sentrum gelei en weer aan die eet gekry. En toe Tanner 2 se sig nog swakker geraak het, het hy hom na die watervore en modderpoele gelei.
Maar die weefselskade aan Tanner 2 se agterbeen was van só ’n ernstige aard dat sy gesondheid net al hoe meer agteruit gegaan en erge lyding vir die dier veroorsaak het. Naderhand het hy selfs begin sukkel om op te staan en te loop.
Ná sy verlossing Maandagaand het Joe Cloete, hoofbestuurder van die Shamwari-groep, gesê Clint sal nou weer terug na sy plek van oorsprong – die nabygeleë Kariega-natuurreservaat – geneem word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld