Web is nuwe speelplek vir kinders
2012-06-27 15:10
Pretoria – Die wêreldwye web, met al sy gevare, is die nuwe speelplek vir kinders, het 'n beampte van Google Suid-Afrika Woensdag gesê.
"Soos by enige speelplek, los jy nie net jou kinders daar nie, maar jy hou toesig en kyk hoe hulle speel," het Fortune Sibanda, die soekenjin se openbarebeleidsbestuurder, by 'n konferensie oor kindermishandeling in Pretoria gesê.
Hy het voogde aangemoedig om streng stappe te neem om hul kinders van negatiewe inhoud op die internet te beskerm.
Minderjariges het vreemde maniere om vir webwerwe te soek en toegang te kry tot webwerwe waarvan hulle verbied is, het Sibenda gesê.
Sibanda het ook beloof dat Google Suid-Afrika saam met besorgde partye en die regering werk, en dat die maatskappy met 'n veldtog besig is om Suid-Afrikaners oor veiligheidskwessies rakende die internet te onderrig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA