Waterjoga nuutste gier in Indië
2010-04-16 19:42
Agra – Klasse vir waterjoga is aan die toeneem in Indië en word by die dag al hoe gewilder.
Harish Chaturyedi, ‘n profesionele instrukteur, gee gratis lesse aan mense wat dié ongewone vorm van joga wil aanleer.
Volgens hom kan waterjoga baie langer as ander soorte joga beoefen word, omdat die liggaam nie vinnig moeg word nie.
“Almal kan leer hoe om te swem, en as hulle dit saam met joga kan aanleer, sal hulle nooit moeg voel nie,” het hy gesê.
“Die suurstofvlakke in die water is baie hoog, en jy sal dus nie enige asemhalingsprobleme ervaar nie.”
Chaturyedi glo dat waterjoga help om die energievlakke op te stoot. Hy fokus op kinders, en bied gereeld sy klasse by die swembad van ‘n plaaslike sportstadion aan.
Joga, wat meditasie sowel as fisieke aktiwiteite insluit, het ‘n gewilde vorm van oefening oor die wêreld heen geword.
- Reuters