'Warmste dekade sedert 1850'
2011-11-29 14:16
Durban – Dertien van die warmste jare wat nog aangemeld is het in die afgelope dekade en ‘n half voorgekom, het die VN se Wêreld-Meteorologiese Organisasie (WMO) Dinsdag gesê.
2011 sluit ‘n dekade af wat gelykstaande is aan die rekord vir die warmste temperature wat tot op hede gemeet is, het die WMO in sy jaarlikse verslag oor klimaatneigings en ekstreme weersomstandighede gesê.
Dit is Dinsdag bekendgemaak by die COP17 klimaatberaad wat tans in Durban onderweg is.
“Ons wetenskap is gegrond en dit bewys dat die wêreld besig is om te verwarm en dat hierdie verwarming die gevolg is van menslike aktiwiteite,” het Michel Jarraud, die WMO se sekretaris-generaal, in ‘n verklaring gesê.
Hy het bygevoeg dat beleidmakers moet kennis neem van die bevindinge.
“Konsentrasies van kweekhuisgasse in die atmosfeer het nuwe hoogtepunte bereik en bereik baie vinnig vlakke wat in ooreenstemming is met ‘n 2 tot 2,4°C toename in gemiddelde wêreldtemperature.”
Wetenskaplikes glo dat enige styging bo die 2,0°C drumpel verreikende en onomkeerbare veranderinge op aarde, op land en see, tot gevolg kan hê.
Die periode van 2002-2011 is gelyk aan die periode van 2001-2010 as die warmste dekade sedert 1850, het die verslag aangedui.
2011 is die 10de warmste jaar sedert 1850, toe akkurate metings begin het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP