Warmer aarde laat diere krimp
2011-10-17 11:18
New York – Baie spesies – van die groot ysbeer tot die klein spreeu in die plafon – se liggame is besig om te krimp en navorsers blameer aardverwarming vir dié verandering.
Die nuwe navorsing, gepubliseer in die joernaal Nature Climate Change, dokumenteer 38 spesies wat oor ‘n dekade in grootte gekrimp het.
Katoen, koring, aarbeie, garnale, krewe, karpe, salm en paddas het onder andere oor die afgelope 10 jaar gekrimp.
Skotse skape is tans 5% kleiner as wat hulle in 1985 was.
“Daar is ‘n tendens by verskeie spesies plante en diere om kleiner te word,” het die navorser Jennifer Sheridan van die Universiteit van Alabama gesê. “Soos dit warmer word het dié spesies nie nodig om so groot te word nie.”
Die meeste van die genoemde diere is koudbloedig en hoe warmer die weer is, hoe vinniger is hulle metabolisme en hoe meer kalorieë verbrand hulle, het Sheridan gesê.
Die biologiese reël, die Bergmann-reël, lui hoe kouer dit word, hoe groter word die dier. Dié bevindinge bewys die teenoorgestelde, het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP