Walvisjag: ‘Hulle huil soos mense’
2011-07-11 08:06
Johannesburg – Walvisse het gevoelens en kan soos mense trauma ervaar en treur.
Daarom het die mens ’n plig om dié hoogs intelligente soogdiere te bewaar, het die wêreldvereniging vir diere se beskerming (WSPA) gister op die vooraand van die 63ste jaarlikse vergadering van die Internasionale Walviskommissie (IWK) in ’n verklaring gesê.
Die IWK vergader vandeesweek in Jersey in Brittanje om onder meer oor walvisjag, wetenskaplike navorsing, walvisbewaring en jagtegnieke te praat.
Die WSPA hoop luidens die verklaring die inhoud van sy verslag sal die IWK oortuig om walvisjag, buiten bestaansjag deur enkele inheemse bevolkings, heeltemal te verbied.
Die organisasie het gesê hy het bevind dat buiten jag daar nog talle menslike aktiwiteite is wat walvisse benadeel.
Hulle word bedreig deur botsings met skepe en geraas- en ander besoedeling in die see, asook klimaatsverandering.
Volgens die WSPA het sy navorsing weer getoon walvisjag bring groot lyding vir die diere mee.
Die organisasie meen wetenskaplike navorsing deur die Japanse walvisjagbedryf moet aan eweknie-beoordeling onderwerp word.
Sedert Japan in 1986 begin het om walvisse onder die vaandel van wetenskap te jag, het net sowat 30 verslae die lig gesien.
Claire Bass, WSPA-woordvoerder, het gesê die IWK het jare gelede reeds ’n dooie punt oor jag vir wetenskaplike navorsing en kommersiële walvisjag bereik.
“Etiese en welsynkwessies staan sentraal tot hierdie debat.
“Ons hoop hierdie verslag sal die IWK tot ander insigte bring.”
Intussen het die militante nie-regeringsorganisasie Sea Shepherd met verwysing na die tsoenami en aardbewing wat Japan op 11 Maart getref het, gesê volgens sy logika sal dié land se walvisjagters nie vanjaar na die Suidelike Oseaan terugkeer nie.
“Die Japannese is egter nie logies wanneer dit by walvisjag kom nie.”
Sea Shepherd het gesê sy afvaardiging sal die Japannese “dophou”.
Die organisasie probeer die Japanse walvisjagters ekonomies knou deur hulle te keer om in die Suidelike Yssee te jag.
Die IWK het op sy webtuiste gesê die Japannese het reeds aangedui hulle gaan ’n klag by die IWK teen Sea Shepherd indien maak omdat hulle hul “wetenskaplike” jagtog by Antarktika vanjaar met byna ses weke moes kortknip.
Die Japannese voer aan Sea Shepherd se “gevaarlike aksies” het die Japanse fabriekskip die Nisshen Maru se bemanning se lewe op die spel geplaas.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld