Walvis vrek op Borneo-strand
2012-08-03 14:32
Kuala Lumpur – ‘n Gestrande walvis wat sowat 16 meter lank was, is op ‘n strand op Maleisië se Borneo-eiland dood, het ‘n beampte Vrydag gesê.
Die walvis is Donderdag op ‘n strand in die Sabah-staat in die ooste van Maleisië gesien, maar hy is op dieselfde dag dood, het Julin Bagang, ‘n beampte van die departement van visserye, gesê.
Hy sê sy span het probeer om die walvis terug in die see in te sleep deur van twee bote gebruik te maak. Brandbestryders het die walvis ook met seewater besprinkel.
“Ons het probeer om hom in die see in te trek, maar hy wou nie teruggaan nie,” het Bagang gesê.
Hy sê elke keer wanneer reddingswerkers die dier in die water in gesleep het, het hy teruggeswem na die strand.
Hy was nie seker wat fout was met die walvis nie. Die dier het ‘n paar snye gehad, maar het nie gelyk of hy ernstig beseer is nie. Hy kon ook nie identifiseer watter tipe walvis dit was nie.
Volgens Bagang was dit die eerste keer wat ‘n walvis op hierdie strand uitgespoel het. The star het berig dat drie ander walvisse voorheen op dieselfde kus op die Suid-Chinese See gestrand het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP