‘Vuvuzela’ en ‘spillcam’ het wêreld aan praat gehad
2010-11-16 07:00
Los Angeles – Die trefwoorde “vuvuzela” en “spillcam” was die woorde wat vanjaar op almal se lippe was, is bevind in ’n taalmonitor-opname waarvan die resultate Sondag bekend gemaak is.
Die Global Language Monitor-opname, wat jaarliks uit die Amerikaanse staat Texas gemeet word, het dié woorde aangewys as die grootste treffers van die jaar.
Die vuvuzela was blykbaar die grootste kenmerk van die Wêreldbeker-sokkertoernooi, terwyl die “spillcam” ’n huishoudelike naam geword het vir diegene wat na ’n regstreekse video-uitsending van die wêreld se grootste oliestorting in die Golf van Mexiko wou kyk.
’n Wiskundige formule word gebruik om die frekwensie van woorde en frases in die Engelssprekende wêreld van meer as 1,58miljard mense te meet.
Die popster Lady Gaga, die term “3D” soos dit in rolprente aangewend word en die term “great recession” het ook die lys gehaal.
- Die Burger