Vrygewige Zuckerbergs deel honderde miljoene uit
2013-02-12 09:22
New York – Die Facebook-stigter Mark Zuckerberg en sy vrou, Priscilla Chan, tel onder die 50 "vrygewigste" skenkers van 2012, toon 'n nuwe lys volgens die tegnologiewebwerf Mashable.
Die sogenaamde Chronicle of Philanthropy toon dat Zuckerberg, 28, en Chan, 27, bykans $500 miljoen (ongeveer R4,45 miljard) geskenk het aan die Silicon Valley Community Foundation, 'n stigting wat skenkers help om donasies te bestuur.
Die paartjie het 18 miljoen Facebook-aandele aan die stigting geskenk om onderwys- en gesondheidsinisiatiewe te ondersteun.
Zuckerberg het dié skenking in Desember op Facebook aangekondig. Zuckerberg en Chan, 'n pediater, het hulle daartoe verbind om die grootste deel van hulle inkomste weg te gee. Zuckerberg het ook in 2010 $100 miljoen (ongeveer R890 miljoen) geskenk om Startup: Education, 'n organisasie wat hom ten doel stel om "beter onderwys" vir studente te verseker, te stig.
Zuckerberg en Chan is egter in die tweede plek op die lys van skenkers. Die sakeghoeroe Warren Buffett, 82, het 'n volle $3,1 miljard (ongeveer R27 miljard) aan verskeie stigtings geskenk.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.