Vrouens kán jok, mans kan net meer
2010-05-21 07:02
Wolfram Zwecker, Die Burger
Johannesburg - As ’n mens die Engelse kan glo, is dit die reine waarheid – mans lieg meer as vroue. En ma’s is die grootste slagoffers van albei geslagte se leuens.
Mans se gewildste leuen? “Ek het nie so baie gedrink nie.”
Vroue se voorkeurleuen is: “Daar’s niks verkeerd nie – ek is orraait.”
Die Britse Wetenskapmuseum in Londen het ’n meningspeiling oor lieg aangevra en OnePoll het dit uitgevoer. Altesaam 3000 Britte van 18 jaar en ouer het daaraan deelgeneem.
Die meningspeiling het bevind 25% van mans en 20% van vroue erken hulle het al vir hul ma gejok, maar net 10% van mans en vroue erken hulle het vir hul wederhelf gejok.
Daar is bevind die gemiddelde Britse man vertel daagliks drie leuens– of jaarliks sowat 1095. Maar vroue jok daagliks net twee keer per dag – of jaarliks 730 keer.
Die Britse Wetenskapmuseum sê in ’n verklaring die peiling se bevindings maak deel uit van hul uitstalling Who Am I? Dit open eersdaags en laat die soeklig val op leuens en die invloed en uitwerking daarvan op mense, hul verhoudings en die samelewing.
Een uit tien mense dink dis goed om leuenverklikkers by die werk in te span, terwyl 75% dink dis reg om hulle in strafregtelike hofsake te gebruik.
Ander bevindings is 55% van Britte dink vroue kan beter lieg as mans, twee derdes reken vroue “erken” ’n leuen gouer as mans, terwyl 14% van vroue reken hulle kom dadelik agterkom wanneer iemand jok.
Vroue het ook “beter” gewetens as mans. Altesaam 82% voel skuldig wanneer hulle jok, terwyl net 70% van mans se gewetens hulle pla.
Van die deelnemers sê 84% leuens is soms “aanvaarbaar”, terwyl driekwart reken dis goed om te lieg om iemand se gevoelens te “beskerm”.
Net 7% erken leuens het hulle moeilikheid by die werk laat optel, terwyl 8% erken leuens het hul verhoudings beëindig.
- Die Burger