Vrou werkloos ná Facebook woede
2009-08-16 13:42
Moenie vergeet wie jou vriende is nie – veral nie op Facebook nie.
Dis die les wat ’n Britse vrou geleer het nadat sy op dié kletsnetwerk gal gebraak het oor haar baas en terstond in die pad gesteek is nadat hy dit gelees het.
Die vrou, net bekend as “Lindsay”, het ná wat lyk na ’n moeilike dag by die werk haar Facebook-status bygewerk met die woorde: “I ?HATE MY JOB!!!!”. En verder gegaan en haar werkgewer beskryf as “pervvy”.
Vier uur later het haar baas, wat as een van haar vriende toegang het tot haar sosiale blad, haar herinner aan hierdie feit.
Hy het aanbeveel dat sy nie moeite moet doen om die volgende dag kantoor toe te kom nie.
Die twee se woordewisseling het vandeesweek wêreldwyd opslae gemaak toe die sosiale-inhoud-webwerf Digg dit geplaas het onder die opskrif: “Why you shouldn’t ?have your boss on Facebook”.
Nóg Lindsay nóg “Brian”, haar baas, kon gekontak word om die storie te bevestig, maar die Britse Daily Telegraph het kundiges geraadpleeg wat meen die gesprek lyk eg. Die name is met swart ink uitgewis, maar op ’n foto lyk Lindsay of sy in die 20 is terwyl haar woedende baas ouer lyk – met ’n sonbril op.
Op ’n onbekende datum het die nou werklose Lindsay glo geskryf: “My boss is a total pervvy w**nker, always making me do s**t stuff.”
In sy reaksie sê Brian sy het klaarblyklik vergeet dat sy hom bygevoeg het as vriend op Facebook. Hy herinner haar ook daaraan dat haar ses maande lange toetstydperk by die werk oor twee weke verstryk. “...that s**t stuff is called your ‘job’ you know, what I pay you to do.
“I’ll pop your P45 (pienk strokie) in the post and you can come in whenever you like to pick up any stuff you’ve left here. And yes, I’m serious.”
- Rapport