Vrou op Facebook-afspraak betrek by rooftog
2011-09-06 13:05
New York – Toe Leah Gibbs op Facebook na Adam Minton se profiel gekyk het, sou sy nooit kon dink dat ‘n onskuldige flankeerdery op dié sosiale netwerk haar na 'n rower sou lei nie.
Gibbs, wat op Facebook na liefde gesoek het, was in haar noppies toe Minton haar vir ‘n aandjie voor die televisie met ‘n DVD genooi het.
Omdat sy graag ‘n goeie indruk wou maak, het sy dadelik ingestem toe Milton haar gevra het om hom na ‘n vriend se huis te neem vir ‘n vinnige besoek.
Sy het dit ook nie snaaks gevind toe hy haar vra om vir hom naby 'n paar winkels in 'n motor te wag nie.
Gibbs het egter kort daarna na die motor aangehardloop gekom.
“Ry, ry, ry!” het hy op haar geskree terwyl hy in die motor gespring het.
Volgens Gibbs was Minton ‘n ander mens na sy “ontmoeting met sy vriend” en sy swak maniere het haar laat dink die afspraak is verby.
Dit was eers 'n paar minute later, terwyl Minton haar voor sy voordeur probeer oortuig het om die res van die aand by hom deur te bring, dat die polisie hul opwagting gemaak het en die rede vir Minton se ongemaklikheid duidelik geword het.
Minton is op die plek in hegtenis geneem vir roof.
Gibbs, erg ontnugter, is ook in hegtenis geneem as medepligtige.
“Ek het gedink ek gaan die aand in Adam se arms deurbring. Hy het egter in die lang arms van die gereg beland en ek kon moontlik tronkstraf kry,” het Gibbs gesê.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.