Vrae ná nóg olifante in Maleisië vergiftig word
2013-01-29 12:36
Kuala Lumpur – Tien bedreigde pigmee-olifante is vroeër in Januarie dood op die Maleisiese eiland Borneo aangetref nadat hulle vermoedelik vergiftig is, het natuurbewaarders gesê.
Natuurbewaarders op die eiland het besluit om ‘n taakmag saam met die polisie en die Wêreldnatuurfonds (WWF) te stig om soortgelyke voorvalle te ondersoek.
Laurentius Ambu, ‘n natuurbewaarder, het Dinsdag gesê dat hulle Woensdag nuus ontvang het dat vier olifante in die Gunung Rara-natuurreservaat dood is.
Natuurbewaringsbeamptes was egter geskok toe hulle nóg vier olifante gevind het wat besig was om te vrek.
“Vroeër vanjaar het ons ook twee karkasse opgespoor in die gebied waar die ander agt olifante aangetref is. Ons glo dat al die gevalle met mekaar verband hou,” het Ambu in ‘n verklaring gesê.
Sen Nathan, ‘n senior veearts, het gesê hulle vermoed die olfante is vergiftig.
“Dit was vreeslik tragies om al daardie dooie olifante te sien, veral een van die dooie koeie wat ‘n jong kalfie gehad het wat sowat drie maande oud is. Die kalfie het probeer om die dooie ma wakker te maak,” het Nathan gesê.
Masidi Manjun, Maleisië se minister van omgewingsake, het belowe om aksie te neem.
“As die arme olifante inderdaad vergiftig is, sal ek persoonlik verseker dat die skuldiges vervolg word en vir hulle misdade betaal,” het Manjun in ‘n verklaring gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP